AANKONDIGING DEUR MNR DEREK HANEKOM: ELANDSLOOF

Issued by: Ministrie van Grondsake

(STATEMENT IN AFRIKAANS ONLY)

AANKONDIGING DEUR MNR DEREK HANEKOM, MINISTER VAN GRONDSAKE: ELANDSKLOOF

In 1961 het die apartheidsregering die gemeenskap van Elandskloof sy grondregte ontneem. Tog het die gemeenskap nooit hierdie miskenning van sy fundamentele regte aanvaar nie.

Inteendeel, in dieselfde jaar het die gemeenskap sy lang tog na vryheid aangepak. Ek dink vandag aan die woorde van oorlede Oupa John Januarie toe hy gese het. "Ek en Madiba is dieselfde jaar tronk toe. Ek het vroeg uitgekom, en toe mnr Mandela 30 jaar later vrygelaat is, het ek geweet nou kan die proses met alle erns begin om ons grond terug te kry."

Dit volg nadat die Nasionale Party regering reeds in 1962 beloof het dat die gemeenskap "binne vyf jaar" sy grond sal terugkry. Met die vrylating van ons President 28 jaar later, het nog niks van hulle mooi beloftes gekom nie.

Nou het Advokaat Wallace Mgoqi, die Kommissaris van die Kommissie op Herstel van Grondregte in die Wes-Kaap, die gemeenskap se grondeis aanvaar vir afhandeling ooreenkomstig die Wet op Herstel van Grondregte, No 22 van 1994.

Elandskloof maak geskiedenis as die eerste gemeenskap wie se grondeis in terme van 'n uitspraak van die Kommissie op Herstel van Grondregte afgehandel sal word.

Ek kondig daarom graag aan dat die herstel van die Elandskloof gemeenskap se grondregte deur die Staat as billik en regverdig geag word. Dit is 'n geleentheid om fees te vier, en om hulde te bring aan almal wat so hard vir hul regte geveg het. Ons eer vandag daardie moeders van die gemeenskap wat in 1962 te voet na Kaapstad geloop het om te veg vir die behoud van hul grond en hul gesinne se huise.

Ek gee hiermee volmag aan die Departement van Grondsake om dringend met die huidige grondeienaar te onderhandel oor die aankoop van die plaas en om enige ander nodige stappe te doen om die grondregte van die gemeenskap te herstel. Die Departement sal die tersaaklike faktore, soos die geskiedenis van die ontneming, in aamerking neem. Indien nodig kan die Grondeisehof 'n vergoedingsbedrag bepaal volgens die formule voorgeskryf in die Grondwet.

My besluit is geneem met inagneming van die relevante faktore, soos voorgeskryf in die Grodwet en die Wet op Herstel van Grondregte. Die ontbering veroorsaak deur die ontneming van die grond, die geskiedenis van die ontneming en die geskiedenis van die verkryging van die grond deur die nuwe eienaar, is van die oorwegings wat my oortuig dat dit die regte wyse is om die Elandskloof grondeis te hanteer.

Die pad vorentoe is nie 'n maklike een vir die gemeenskap nie, maar ek vertrou dat ons vandag nog 'n tree geneem het op die weg van verspening en dat die besluit tot die beste voordeel van die Elandskloof gemeenskap, die Citrusdal distrik en sy mense, sowel as van ons land in geheel, sal wees.

Ten slotte wil ek graag weer eens die gemeenskap gelukwens - julle het die "struggle" gestry en julle het hom gewen. Julle is vandag 'n voorbeeld vir al ons medeburgers in Suid-Afrika. My gelukwense gaan ook aan mnr Mgoqi, wie se besluit in die geskiedenisboeke opgeteken sal staan as 'n voorbeld van hoe geregtigheid geskied na die lang jare van ongeregtigheid en apartheid.

UITGEREIK DEUR DIE MINISTERIE VAN GRONDSAKE, 22 OKTOBER 1995