Uitgereik deur: Die Waarheids- en Versoenings Kommissie
Vir aandag: Nuusredakteur
Vir onmiddellike vrystelling: 16 Mei 1997
VERKLARING DEUR MNR WYNAND MALAN, ONDER-VOORSITTER VAN DIE KOMITEE OP MENSEREGTE-SKENDINGS VAN DIE WAARHEIDS- EN VERSOENINGS KOMMISSIE.
Ek stel hierdie verklaring vry in my persoonlike hoednigheid as 'n Kommissaris van die Waarheids- en Versoenings- Kommissie (WVK).
Die land, die WVK en ekself beleef op die oomblik 'n krisis. Die krisis gaan oor proses. Maar dit gaan oor baie meer as die proses.
Almal van ons kom uit verskillende leefwerelde. Ons het vir eeue nie mekaar se ervaringe en belewenisse gedeel nie. Ons almal soek na die waarheid. En ons weet nie wat dit is nie. Deel van die waarheid is dat ons nou nog nie mekaar se leefwerelde kan deel nie, al spreek ons dit hoeveel keer teenoor mekaar uit. Ons verstaan nie mekaar se smart en pyn nie.
Veral ons wat uit die ou orde uit kom - of dan sekerlik die oorgrote meerderheid van ons (wat uit die ou orde kom) - gru by die aanhoor, oor die afgelope jaar of wat, van die stories wat slagoffers van growwe menseregte skendings vertel.
Ons gru en voel bedrieg. Ons voel tenagekom. Ons voel in ons waardigheid gekrenk dat sulke dinge moontlik was, by wyse van spreke, onder ons neuse. Hoe kon dit gebeur? Ons is slagoffers van die wreedste bedrogspul wat teenoor ons gepleeg is! Dit is ons belewenis van onthullings wat dag tot dag gemaak word - en die Here weet - wat waarskynlik nog baie na vore gaan kom. Hierdie belewenis is 'n ware belewenis. Ek betwyfel of bevraagteken nie die werklikheid daarvan nie.
Maar die belewenis van hulle wat uit die struggle kom, wat aan die ontvangkant van hierdie dinge was, waarvoor ons gru, sien ons nie, hoor ons nie, verstaan ons nie en deel ons nie. Daardie pyn kan ons nie help sagter maak nie omdat ons eie "gekwetsheid" deur die bedrog vooropstaan. Ons is gekrenk in ons eer. Ons bly gru.
Die taak van die WVK ook om hulle (onder ons) wat aan die ontvangkant was - en selfs steeds is - te help om hulle menswees te herstel.
Hull (onder ons) wat die slagoffers van hierdie gru-dade was, van moorde en marteling van die grofste skendings, nie net van mense-regte nie, maar van menswees self, kan nie ons wat uit die ou orde kom se pyn sien nie. En kan ons dit verwag? Vergelyk die pyn in enige opsig in skaalverband gemeet, laat staan nog in aard?
As ons enigsins 'n bydrae wil maak tot die toekoms van 'n gesonde Suid-Afrika, van 'n land waar hulle ons kan wees en ons hulle kan wees - waar ons almal ons kan wees - dan sal ons die groter pyn moet verduur van hulle pyn te deel. Dan moet ons oor die luukse kom van in verontwaardiging ons oor ons eie pyn te verknies.
Eers dan sal ons verstaan hoekom hulle ons nie verstaan nie. Eers dan word dit moontlik om hulle te help om hulle menswees op te neem, beheer te neem, om daarmee vorentoe te gaan. Ek se nie hulle kan dit nie sonder ons doen nie. Ek se net ons kan 'n bydrae maak om dit makliker te maak, om te genees, om in 'n gesonde samelewing vorentoe te gaan.
Die tragiese werklikheid is dat eers dan ons leefwerelde gedeel kan word en ons met mekaar vrede kan maak oor waarvandaan ons onderskeidelik kom. Tot dan dra ons almal ons eie verskillende bagasies. Eers daarna kan ons saamdra aan die geheel van bagasie van ons gesamentlike verledes waardeur nie die heugnis nie, maar ten minste die las, kan verdwyn.
Die voorsitter van die WVK se standpunte op gistermiddag se perskonferensie wat neerkom op 'n verwerping van die getuienis van die leier van die NP (of indien nie as nie, dan baie naby daaraan) op 'n bevinding dat Mnr FW de Klerk, berekend deel was, en by verlenging van die argument, sy kollegas in die kabinet (koukus party-strukture?) van 'n patroon van moord en marteling, is tekenend van wat ek probeer aanspreek. Vanuit ons gekrenktheid deur die bedrog teenoor ons gepleeg, is die natuurlike om op die proses te fokus en die instelling en aktiwiteite van die WVK te verwerp, afstand daarvan te kry uit vrees vir 'n bevinding wat, uit ons hoek, verkeerd sal wees, wat onreg sal wees. En hierdie laaste perspektief, met my bagasie en leefwereld, deel ek.
Gaan dit help? Nee! Want dit gaan nie net oor die bilikheid in proses nie, daaroor ook ja, maar dit gaan oor waarheid en ver- soening. Dit gaan oor die werklikheid van wat gebeur het en oor die vermoe van ons almal om in hierdie land met meaar vorentoe te kan saamleef, om aan mekaar te kan bou ter wille daarvan om vir ons en ons kinders en vir hulle kinders en nageslagte'n toekoms na te laat.
Hoe kom ons by die waarheid uit en daardeur ook die verstaan, versoening en toekoms?
Ek het geen twyfel meer dat die gruwels op groot skaal plaas- gevind het nie. Ek het geen twyfel dat dit georganiseerd plaasgevind het nie. Ek het geen twyfel dat dit bepland en stelselmatig plaas- gevind het nie. Ek het in my gemoed ook geen twyfel nie dat daar samespaning was om hierdi praktyke moontlik te maak en so lank toegelaat het om voort te gaan nie. Ek het geen twyfel dat berekend andere in die duister gehou is nie Ek het geen voorbehoude dat die gruwels geopenbaar en gestraf moet word nie, elk op meriete (of dismeriete) en elk met inagneming van aanspreeklikheid gebaseer op die opset van die handeling of late. Die onderliggende beginsels van Amnestie in die algemeen en die spesifieke bepalings van die wet, kom eers daarna in die prentjie.
Dis met hierdie aanslag dat ek hiermee 'n openbare beroep nou spesifiek maak op die onder ons met skoon hande, of minder vuil hande, om aktief te help om die komplot te ontrafel. Daar is waarskynlik baie ander - die parlementslede, spesifiek ook kabinetslede van die ou orde en ook in die veiligheidsmagte wat weet dat ek hulle belewenisse en gewaarwordinge vir hulle beskryf het?
Kom ons steek ons gekwetsheid in ons sak en ons werk saam uit hoe die "komplotters" dit kon regkry om dit aan ons (en hulle!) te doen. My beroep gaan uit tot almal wat betrokke was in die beheer- strukture van die ou orde, beide polities en operasioneel, wat in die duister gehou is, om saam te werk aan te probeer uitvind hoe dit kon gebeur het, en tydelik dan, ten minste, ons verontskuldigings of onskuld te laat. Die oproep gaan ook tot Mnr De Klerk en sy party
Die WVK is nie 'n regsproses nie, dit is 'n ontdekkingsreis. Dit vra inderdaad vir billikheidsreels. En ek sal voortgaan om my daarvoor en daarop te stel. Maar dit vra veral vir gevolgtrekings oor wat regtig gebeur het en oor hoe dit gebeur het. Sonder om daarby uit te kom, bly die risiko dat die misdaad gestraf word maar nie die (regte) misdadigers nie.