(Soos gewysig deur die Staande Komitee oor Staatkundige Sake, Plaaslike Bestuur en Behuising in opvolging van die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 2 September 1997 en aangeneem deur die Wetgewer op 11 September 1997)
(Premier)
INHOUDSOPGAWE
Aanhef
AANHEF
In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God,
Neem ons, die mense van Wes-Kaap, déúr ons verkose verteenwoordigers -
In diepe besef, en in die strewe ter heling van die onreg van die verlede,
In diepe besef dat vrede, versoening en geregtigheid noodsaaklik is,
In ons strewe om die ontwikkeling van Wes-Kaap en 'n beter lewensgehalte vir al sy inwoners deur regverdige en doeltreffende regering te bevorder, en
Met die bevestiging dat Wes-Kaap, 'n provinsie van die Republiek van Suid-Afrika, gegrondves is op:
demokratiese waardes,
die erkenning van menseregte,
die erkenning van die gesin,
verantwoordelike en verantwoordbare regering,
die heerskappy van die reg,
die beginsels van wedersydse vertroue en samewerking, en
trou aan die nasionale Grondwet -
nou hierdie Grondwet vir Wes-Kaap aan.
Mag God ons mense beskerm.
God seën Suid-Afrika, Nkosi Sikelel' iAfrika,
God bless South Africa.
STIGTINGSBEPALINGS
Provinsie Wes-Kaap
1. Wes-Kaap is 'n provinsie van die Republiek van Suid-Afrika, soos deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika ingestel.
Grense van Provinsie
2. Die grense van Wes-Kaap word deur die nasionale Grondwet vasgestel.
Aanname, status en uitleg van hierdie Grondwet
3. (1) Hierdie Grondwet word ingevolge die nasionale Grondwet, die hoogste reg van die Republiek van Suid-Afrika, vir Wes-Kaap aangeneem.
(2) Die wetgewende en uitvoerende bevoegdhede en funksies van Wes-Kaap wat in hierdie Grondwet opgeteken is, word uitsluitlik aan die nasionale Grondwet ontleen.
(3) Die bepalings van hierdie Grondwet moet nie uitgelê word as sou dit enige wetgewende of uitvoerende gesag wat onbestaanbaar met die nasionale Grondwet is, aan Wes-Kaap opdra nie.
(4) In geval van 'n teenstrydigheid tussen verskillende tekste van hierdie Grondwet geniet die Engelse teks voorrang.
Toepassing van Grondwet
4. Hierdie Grondwet geld vir Wes-Kaap. Behoudens die nasionale Grondwet, is dit die hoogste reg in Wes-Kaap, en die verpligtinge wat dit oplê, moet getrou en sonder versuim nagekom word.
Tale
5. (1) Vir die doeleindes van provinsiale regering moet -
(a) die amptelike tale Afrikaans, Engels en isiXhosa gebruik word; en
(b) hierdie tale gelyke status geniet.
(2) Die regering van die Wes-Kaap moet sy gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa deur wetgewende en ander maatreëls reël en monitor.
(3) Die provinsiale regering moet praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status en gebruik van dié inheemse tale van die mense van Wes-Kaap waarvan die status en gebruik histories ingekort is, te verhoog en te bevorder.
Provinsiale simbole en eerbewyse
6. (1) 'n provinsiale Wet kan voorsiening maak vir -
(a) provinsiale simbole; en
(b) die toekenning van provinsiale eerbewyse.
(2) 'n provinsiale Wetsontwerp wat vir provinsiale simbole voorsiening maak, moet deur die Provinsiale Parlement met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede aangeneem word.
INTER-REGERINGSBETREKKINGE
Samewerkende Regering
7. As deel van die provinsiale regeringsfeer van die Republiek van Suid-Afrika moet die Wes-Kaapse regering -
(a) in al sy handelinge met die nasionale regering, die ander provinsiale regerings en die munisipaliteite in Wes-Kaap ooreenkomstig die beginsels van samewerkende regering en inter-regeringsbetrekkinge soos in die nasionale Grondwet uiteengesit, handel;
(b) aan strukture en instellings vir die bevordering en fasilitering van inter-regeringsbetrekkinge wat ingevolge die nasionale Grondwet ingestel is, deelneem; en
(c) van meganismes en prosedures vir die beslegting van inter-regeringsgeskille wat ingevolge die nasionale Grondwet ingestel is, gebruik maak.
Deelname aan Nasionale Raad van Provinsies
8. Afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies moet aktief aan die Raad deelneem ten einde die belange van Wes-Kaap en van die land as geheel ooreenkomstig die beginsels van samewerkende regering en inter-regeringsbetrekkinge in die nasionale Grondwet uiteengesit, te bevorder.
PROVINSIALE PARLEMENT
Wetgewende gesag
9. (1) Die wetgewende gesag van Wes-Kaap berus by die Provinsiale Parlement.
(2) Die Provinsiale Parlement word slegs deur die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet gebind, en moet in ooreenstemming met, en binne die perke opgelê deur, dié Grondwette handel.
(3) Die Provinsiale Parlement kan -
(a) hierdie Grondwet vervang, wysig of herroep;
(b) wetgewing vir Wes-Kaap ingevolge die nasionale Grondwet en in ooreenstemming met hierdie Grondwet aanneem;
(c) wetgewing vir Wes-Kaap betreffende enige aangeleentheid wat deur nasionale wetgewing aan Wes-Kaap opgedra is, aanneem; en
(d) enige van sy wetgewende bevoegdhede in paragraaf (b) bedoel, en waar dit toegelaat word, enige van sy wetgewende bevoegdhede in paragraaf (c) bedoel, aan 'n Munisipale Raad opdra.
(4) Die Provinsiale Parlement kan -
(a) by wyse van 'n besluit by die Nasionale Vergadering aanbeveel om wetgewing betreffende enige aangeleentheid buite die gesag van die Provinsiale Parlement, of ten opsigte waarvan 'n Parlementswet voorrang bo provinsiale wetgewing geniet, aan te neem;
(b) by wyse van 'n besluit by die Nasionale Raad van Provinsies aanbeveel dat dit wetgewing betreffende enige ander aangeleentheid moet aanneem; en
(c) by wyse van 'n besluit wat met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede aangeneem is, die Parlement versoek om die naam van die Provinsie te verander.
Wetsontwerpe om hierdie Grondwet te vervang, te wysig of te herroep
10. (1) 'n Wetsontwerp om hierdie Grondwet te vervang, te wysig of te herroep -
(a) moet deur die Provinsiale Parlement met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede aangeneem word; en
(b) mag slegs grondwetlike bepalings insluit.
(2) Minstens 30 dae voordat 'n Wetsontwerp bedoel in subartikel (1) by die Provinsiale Parlement ingedien word, moet die lid of komitee wat voornemens is om die Wetsontwerp in te dien -
(a) besonderhede van die beoogde Wetsontwerp in die amptelike koerant van die Provinsie en in minstens drie nuusblaaie wat in Wes-Kaap in omloop is, vir openbare kommentaar publiseer; en
(b) dié besonderhede ooreenkomstig die reëls van die Provinsiale Parlement aan munisipaliteite binne Wes-Kaap vir hul sienswyses voorlê.
(3) Wanneer 'n Wetsontwerp bedoel in subartikel (1) ingedien word, moet die lid of komitee wat die Wetsontwerp indien, enige skriftelike kommentaar wat van die publiek en van munisipaliteite ontvang is, aan die Speaker voorlê vir tertafellegging in die Provinsiale Parlement.
Sertifisering
11. Indien die Provinsiale Parlement hierdie Grondwet vervang of gewysig het, moet die Speaker die teks van die nuwe grondwet of die grondwetwysiging aan die Konstitusionele Hof vir sertifisering voorlê.
Ondertekening, veilige bewaring, publikasie en inwerkingtreding van
provinsiale grondwet
12. (1) Die Premier moet die teks van 'n nuwe grondwet of enige grondwetwysiging wat deur die Konstitusionele Hof gesertifiseer is, bekragtig en onderteken.
(2) Die teks wat die Premier bekragtig en onderteken het, moet in sowel die nasionale Staatskoerant as die amptelike koerant in die Provinsie gepubliseer word. Dit tree by publikasie of op 'n latere datum wat ingevolge die nuwe grondwet of die grondwetwysiging bepaal word, in werking.
(3) Die ondertekende teks van 'n nuwe grondwet of 'n grondwetwysiging is afdoende bewys van die bepalings daarvan. Na publikasie moet dit aan die Konstitusionele Hof vir veilige bewaring toevertrou word.
Samestelling
13. Die Provinsiale Parlement bestaan uit 42 verkose lede.
Verkiesing van Provinsiale Parlement
14. Die Provinsiale Parlement bestaan uit persone wat as lede verkies is ingevolge 'n kiesstelsel wat -
(a) deur nasionale wetgewing voorgeskryf word;
(b) op die Provinsie se segment van die nasionale gemeenskaplike kieserslys gebaseer is;
(c) vir 'n minimum stem-ouderdom van 18 jaar voorsiening maak; en
(d) in die algemeen, proporsionele verteenwoordiging tot gevolg het.
Lidmaatskap
15. (1) Elke burger wat bevoeg is om vir die Nasionale Vergadering te stem, is bevoeg om 'n lid van die Provinsiale Parlement te wees, uitgesonderd -
(a) iemand wat aangestel is deur, of in die diens is van, die staat en besoldiging vir dié aanstelling of diens ontvang, behalwe -
(i) die Premier en ander Provinsiale Ministers van Wes-Kaap; en
(ii) ander ampsdraers wie se funksies met die funksies van 'n lid van die Provinsiale Parlement versoenbaar is, en deur nasionale wetgewing verklaar is met dié funksies bestaanbaar te wees;
(b) lede van die Nasionale Vergadering, vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies of lede van 'n Munisipale Raad;
(c) ongerehabiliteerde insolvente;
(d) iemand wat deur 'n hof van die Republiek as geestelik gekrenk verklaar is; of
(e) iemand wat na 3 Februarie 1997 binne die Republiek aan 'n misdryf skuldig bevind is of skuldig bevind word, of buite die Republiek aldus skuldig bevind is of skuldig bevind word indien die optrede wat die misdryf uitmaak, binne die Republiek 'n misdryf sou uitgemaak het, en tot meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van 'n boete gevonnis is, maar niemand word as gevonnis beskou voordat 'n app|f4l teen die skuldigbevinding of vonnis beslis is, of voordat die tyd om app|f4l aan te teken, verstryk het nie. 'n Onbevoegdheid kragtens hierdie paragraaf verstryk vyf jaar nadat die vonnis voltooi is.
(2) Iemand wat ingevolge subartikel (1)(a) of (b) onbevoeg is om 'n lid van die Provinsiale Parlement te wees, kan 'n kandidaat vir die Provinsiale Parlement wees behoudens enige beperkings of voorwaardes wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.
(3) 'n Persoon verloor lidmaatskap van die Provinsiale Parlement indien so 'n persoon -
(a) ophou om bevoeg te wees om 'n lid te wees;
(b) as lid bedank; of
(c) sonder toestemming van die Provinsiale Parlement afwesig is in omstandighede waarvoor die reëls en orders van die Provinsiale Parlement verlies van lidmaatskap voorskryf.
(4) Vakatures in die Provinsiale Parlement moet ingevolge nasionale wetgewing gevul word.
Eed of plegtige verklaring
16. Voordat lede van die Provinsiale Parlement begin om hul funksies as lede te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 1 'n eed of plegtige verklaring van trou aan die Republiek en Wes-Kaap en gehoorsaamheid aan die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet aflê.
Duur
17. (1) Die Provinsiale Parlement word vir 'n termyn van vyf jaar verkies.
(2) Indien die Provinsiale Parlement ingevolge artikel 18 ontbind word of wanneer sy termyn verstryk, moet die Premier by proklamasie 'n verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, en dié verkiesing moet gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die Provinsiale Parlement ontbind is of sy termyn verstryk het.
(3) Indien die uitslag van 'n verkiesing van die Provinsiale Parlement nie binne die tydperk deur nasionale wetgewing bepaal, bekend gemaak word nie, of indien 'n verkiesing deur 'n hof tersyde gestel word, moet 'n ander verkiesing ingevolge die nasionale Grondwet gehou word.
(4) Die Provinsiale Parlement bly bevoeg om te funksioneer vandat dit ontbind het of die termyn daarvan verstryk het tot op die dag voor die eerste dag waarop die stemming vir die volgende Provinsiale Parlement plaasvind.
Ontbinding van Provinsiale Parlement voor verstryking van termyn
18. (1) Die Premier moet die Provinsiale Parlement ontbind indien -
(a) die Provinsiale Parlement 'n besluit om te ontbind met 'n ondersteunende stem van 'n meerderheid van al die lede aangeneem het; en
(b) drie jaar verstryk het sedert die Provinsiale Parlement verkies is.
(2) 'n Waarnemende Premier moet die Provinsiale Parlement ontbind indien daar 'n vakature in die amp van Premier is en die Provinsiale Parlement in gebreke bly om binne 30 dae nadat die vakature ontstaan het, 'n nuwe Premier te kies.
Setel van Provinsiale Parlement, sittings en resesse
19. (1) Die setel van die Provinsiale Parlement is Kaapstad.
(2) Die Provinsiale Parlement kan bepaal dat dit of enige van die komitees daarvan, indien nodig, elders in Wes-Kaap kan sit.
(3) Die eerste sitting van die Provinsiale Parlement na 'n verkiesing vind plaas op 'n tyd en datum wat bepaal word deur 'n Regter wat deur die President van die Konstitusionele Hof aangewys word, maar nie later nie as 14 dae nadat die verkiesingsuitslag bekend gemaak is.
(4) Die Provinsiale Parlement kan die tye en duur van sy ander sittings en resesse bepaal.
(5) Die Premier kan die Provinsiale Parlement te eniger tyd vir 'n buitengewone sitting byeenroep om spesiale of dringende werksaamhede te verrig.
Speaker
20. (1) Die Provinsiale Parlement moet by die eerste sitting na sy verkiesing, of wanneer 'n vakature gevul moet word, 'n Speaker uit sy geledere kies.
(2) 'n Regter deur die President van die Konstitusionele Hof aangewys, moet by die verkiesing van die Speaker voorsit. Die prosedure uiteengesit in Bylae 2 van hierdie Grondwet is op die verkiesing van die Speaker van toepassing.
(3) Die Provinsiale Parlement kan -
(a) 'n Adjunk-speaker uit eie geledere kies; en
(b) ander voorsittende beamptes uit eie geledere kies om die Speaker en die Adjunk-speaker by te staan.
(4) Die Provinsiale Parlement kan die Speaker, Adjunk-speaker en enige ander voorsittende beampte by wyse van 'n besluit wat met 'n ondersteunde stem van 'n meerderheid van al die lede goedgekeur word, van hul amp onthef.
Kworum en besluite
21. (1) Behalwe waar hierdie Grondwet anders bepaal -
(a) moet 'n meerderheid van die lede van die Provinsiale Parlement teenwoordig wees voordat 'n stemming oor 'n Wetsontwerp of die wysiging van 'n Wetsontwerp gehou kan word;
(b) moet minstens een derde van die lede teenwoordig wees voordat 'n stemming oor enige ander vraag wat voor die Provinsiale Parlement dien, gehou kan word; en
(c) word alle vrae wat voor die Provinsiale Parlement dien, beslis met 'n meerderheid van die stemme wat uitgebring word.
(2) Die lid wat op 'n vergadering van die Provinsiale Parlement voorsit, het nie'n beraadslagende stem nie, maar -
(a) moet 'n beslissende stem uitbring wanneer daar 'n staking van stemme oor 'n vraag is; en
(b) kan 'n beraadslagende stem uitbring wanneer 'n vraag beslis moet word met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Provinsiale Parlement.
Vaste afgevaardigdes se regte in Provinsiale Parlement
22. Vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies kan in die Provinsiale Parlement en sy komitees sitting neem en daarin praat maar mag nie stem nie. Die Provinsiale Parlement kan van 'n vaste afgevaardigde vereis om in die Provinsiale Parlement of sy komitees sitting te neem.
Bevoegdhede van Provinsiale Parlement
23. (1) By die uitoefening van sy wetgewende gesag kan die Provinsiale Parlement -
(a) enige Wetsontwerp wat voor hom dien, oorweeg, aanneem, wysig of verwerp; en
(b) wetgewing, behalwe Geldwetsontwerpe, inisieer of opstel.
(2) Behoudens subartikel (4) moet die Provinsiale Parlement voorsiening maak vir meganismes om -
(a) te verseker dat alle provinsiale staatsorgane aan hom verantwoording doen; en
(b) toesig te hou oor -
(i) die uitoefening van provinsiale uitvoerende gesag, insluitende die uitvoering van wetgewing; en
(ii) enige provinsiale staatsorgaan.
(3) Die Provinsiale Parlement kan -
(a) sy eie interne reëlings, verrigtinge en prosedures bepaal en beheer; en
(b) reëls en orders betreffende sy werksaamhede maak, met behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoordbaarheid, deursigtigheid en openbare deelname.
(4) Die Provinsiale Parlement moet in sy reëls en orders voorsiening maak vir -
(a) die instelling, samestelling, bevoegdhede, funksies, prosedures en duur van sy komitees;
(b) die deelname van minderheidspartye wat in die Provinsiale Parlement verteenwoordig is, aan die verrigtinge van die Provinsiale Parlement en sy komitees op 'n wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is;
(c) die opdra aan sy komitees van sodanige bevoegdhede wat hulle in staat stel om -
(i) toesig te hou oor die aktiwiteite van die provinsiale staatsorgane;
(ii) te verseker dat die provinsiale uitvoerende gesag verantwoordingspligtig is; en
(iii) deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die doeltreffende bestuur van die provinsiale ekonomie, provinsiale begroting, provinsiale skuld en die provinsiale openbare sektor te bevorder;
(d) 'n staande komitee van die Provinsiale Parlement om die sosio-ekonomiese omstandighede van die inwoners van Wes-Kaap te monitor en aanbevelings aan die Provinsiale Parlement te doen aangaande die verbetering van sodanige omstandighede;
(e) koördinasie tussen die Provinsiale Parlement en sy komitees en die Nasionale Raad van Provinsies;
(f) die ontvangs van petisies, vertoë of voorleggings deur enige belanghebbende persoon of instelling;
(g) die deelname van verteenwoordigers van die verskillende kategorieë plaaslike regering in Wes-Kaap aan die beraadslagings van staande komitees oor Wetsontwerpe wat die belange van munisipaliteite in Wes-Kaap raak, en
(h) finansiële en administratiewe bystand aan elke party wat in die Provinsiale Parlement verteenwoordig is, in verhouding tot die verteenwoordiging wat dit geniet, ten einde die party en sy leier in staat te stel om hul funksies in die Provinsiale Parlement doeltreffend te verrig.
Leier van Opposisie
24. Die reëls en orders van die Provinsiale Parlement moet voorsiening maak vir die erkenning van die Leier van die Opposisie in die Provinsiale Parlement.
Getuienis of inligting voor Provinsiale Parlement
25. Die Provinsiale Parlement of enige van sy komitees kan -
(a) enige persoon dagvaar om voor hom te verskyn om onder eed of plegtige verklaring getuienis af te lê, of om dokumente voor te lê;
(b) van enige natuurlike of regspersoon of provinsiale staatsorgaan vereis om aan hom verslag te doen;
(c) ingevolge provinsiale wetgewing of die reëls en orders van die Provinsiale Parlement enige persoon of provinsiale staatsorgaan verplig om aan 'n dagvaarding of vereiste ingevolge paragraaf (a) of (b) te voldoen; en
(d) van enige belanghebbende persoon of instelling petisies, vertoë of voorleggings ontvang.
Privilegie
26. Lede van die Provinsiale Parlement en die vaste afgevaardigdes van Wes-Kaap na die Nasionale Raad van Provinsies -
(a) het, behoudens die reëls en orders van die Provinsiale Parlement, vryheid van spraak in die Provinsiale Parlement en in sy komitees; en
(b) is nie blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming, gevangesetting of skadevergoeding weens -
(i) enigiets wat hulle gesê of blootgelê het in, of voorgelê het aan, die Provinsiale Parlement of enige van sy komitees nie; of
(ii) enigiets wat aan die lig gebring is as gevolg van enigiets wat hulle gesê of blootgelê het in, of voorgelê het aan, die Provinsiale Parlement of enige van sy komitees nie.
Gedragskode
27. Provinsiale wetgewing moet vir 'n gedragskode vir die lede van die Provinsiale Parlement voorsiening maak.
Openbare toegang
28. (1) Die verrigtinge van die Provinsiale Parlement en sy komitees vind in die openbaar plaas, maar redelike maatreëls kan getref word om -
(a) openbare toegang, insluitende toegang van die media tot die Provinsiale Parlement en sy komitees, te reguleer; en
(b) voorsiening te maak vir die deursoeking van enige persoon en, waar dit gepas is, die weiering van toegang aan, of die verwydering van, enige persoon.
(2) Die publiek, insluitende die media, mag nie van 'n sitting van 'n komitee van die Provinsiale Parlement uitgesluit word nie, tensy dit in 'n oop en demokratiese gemeenskap redelik en regverdigbaar is om dit te doen.
(3) Die Provinsiale Parlement moet openbare deelname aan sy aktiwiteite en dié van sy komitees vergemaklik.
Indiening van Wetsontwerpe
29. Slegs 'n Provinsiale Minister, 'n komitee of lid van die Provinsiale Parlement kan 'n Wetsontwerp by die Provinsiale Parlement indien. Indien die Wetsontwerp 'n Geldwetsontwerp is, mag slegs die Provinsiale Minister verantwoordelik vir finansiële sake dit by die Provinsiale Parlement indien.
Geldwetsontwerpe
30. (1) 'n Wetsontwerp wat geld bewillig of belastings, heffings of regte oplê, is 'n Geldwetsontwerp. 'n Geldwetsontwerp mag oor geen ander aangeleentheid handel nie, behalwe 'n ondergeskikte aangeleentheid wat verband hou met die bewilliging van geld of die oplegging van belastings, heffings of regte.
(2) 'n provinsiale Wet moet voorsiening maak vir 'n prosedure waarvolgens die Provinsiale Parlement 'n Geldwetsontwerp kan wysig.
Bekragtiging van Wetsontwerpe
31. (1) Die Premier van Wes-Kaap moet binne 45 dae nadat 'n Wetsontwerp deur die Provinsiale Parlement aangeneem is -
(a) die Wetsontwerp bekragtig en onderteken; of
(b) indien die Premier voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die Wetsontwerp het, dit na die Provinsiale Parlement vir heroorweging terugverwys.
(2) Indien die Wetsontwerp, na heroorweging, ten volle die Premier se voorbehoude in ag neem, moet die Premier die Wetsontwerp binne 45 dae vanaf die datum waarop dit heroorweeg is, bekragtig en onderteken; indien nie, moet die Premier binne 45 dae vanaf die datum waarop dit heroorweeg is -
(a) die Wetsontwerp bekragtig en onderteken; of
(b) dit na die Konstitusionele Hof vir 'n beslissing oor die grondwetlikheid daarvan verwys.
(3) Indien die Konstitusionele Hof beslis dat die Wetsontwerp grondwetlik is, moet die Premier dit binne 14 dae bekragtig en onderteken.
Aansoek by Konstitusionele Hof deur lede
32. (1) Lede van die Provinsiale Parlement kan by die Konstitusionele Hof aansoek doen om 'n bevel wat verklaar dat 'n provinsiale Wet in die geheel of ten dele ongrondwetlik is.
(2) 'n Aansoek -
(a) moet deur minstens 20 persent van die lede van die Provinsiale Parlement gesteun word; en
(b) moet gedoen word binne 30 dae vanaf die datum waarop die Premier die Wet bekragtig en onderteken het.
Publikasie en inwerkingtreding van provinsiale Wette
33. (1) 'n Wetsontwerp wat deur die Premier bekragtig en onderteken is, word 'n Wet van Wes-Kaap. Dit moet onverwyld in die amptelike koerant van die Provinsie gepubliseer word en tree in werking by publikasie daarvan of op 'n datum ingevolge die Wet bepaal.
(2) Provinsiale wetgewing moet vir die verspreiding en verdere publikasie van besonderhede van provinsiale Wette voorsiening maak.
Veilige bewaring van provinsiale Wette
34. Die ondertekende eksemplaar van 'n Wet is afdoende bewys van die bepalings daarvan. Na publikasie moet die Wet aan die Konstitusionele Hof vir veilige bewaring toevertrou word.
UITVOERENDE GESAG
Uitvoerende gesag
35. (1) Die uitvoerende gesag van Wes-Kaap berus by die Premier.
(2) Die Premier oefen die uitvoerende gesag gesamentlik met die ander Provinsiale Ministers uit deur -
(a) provinsiale wetgewing uit te voer;
(b) behalwe waar die nasionale Grondwet of 'n Parlementswet anders bepaal, alle nasionale wetgewing binne die funksionele terreine in Bylae 4 of 5 van die nasionale Grondwet gelys, uit te voer in die mate dat Wes-Kaap die administratiewe vermoë het om effektiewe verantwoordelikheid te aanvaar;
(c) nasionale wetgewing buite die funksionele terreine in Bylaes 4 en 5 van die nasionale Grondwet gelys, uit te voer indien die administrasie daarvan ingevolge 'n Parlementswet aan die Provinsiale Kabinet opgedra is;
(d) provinsiale beleid te ontwikkel en uit te voer;
(e) die funksies van die provinsiale administrasie en sy departemente te koördineer;
(f) provinsiale wetgewing op te stel en te inisieer; en
(g) enige ander funksie wat ingevolge die nasionale Grondwet of 'n Parlementswet aan die Provinsiale Kabinet opgedra is, te verrig.
(3) Die provinsiale uitvoerende gesag moet ooreenkomstig die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet handel.
Opdra van funksies
36. 'n Provinsiale Minister kan enige bevoegdheid of funksie wat ingevolge 'n Parlementswet of 'n provinsiale Wet uitgeoefen of verrig moet word, aan 'n Munisipale Raad opdra. 'n Opdrag -
(a) geskied ingevolge 'n ooreenkoms tussen die betrokke Provinsiale Minister en die Munisipale Raad;
(b) moet met die Wet ingevolge waarvan die betrokke bevoegdheid of funksie uitgeoefen of verrig word, bestaanbaar wees; en
(c) tree by proklamasie deur die Premier in die amptelike koerant van die Provinsie inwerking.
Bevoegdhede en funksies van Premier
37. (1) Die Premier het die bevoegdhede en funksies wat deur die nasionale Grondwet, hierdie Grondwet en enige wetgewing aan daardie amp toevertrou is.
(2) Die Premier is verantwoordelik vir -
(a) die bekragtiging en ondertekening van Wetsontwerpe;
(b) die terugverwysing van 'n Wetsontwerp na die Provinsiale Parlement vir heroorweging van die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;
(c) die verwysing van 'n Wetsontwerp na die Konstitusionele Hof vir 'n beslissing oor die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;
(d) die byeenroeping van die Provinsiale Parlement vir 'n buitengewone sitting om spesiale of dringende werksaamhede te verrig;
(e) die aanstelling van kommissies van ondersoek; en
(f) die uitroep van 'n referendum in Wes-Kaap ooreenkomstig nasionale wetgewing.
Verkiesing van Premier
38. (1) Tydens sy eerste sitting na sy verkiesing, en wanneer dit nodig is om 'n vakature te vul, moet die Provinsiale Parlement 'n Premier uit sy geledere verkies.
(2) 'n Regter deur die President van die Konstitusionele Hof aangewys, moet by die verkiesing van 'n Premier voorsit. Die prosedure uiteengesit in Bylae 2 van hierdie Grondwet is op die verkiesing van die Premier van toepassing.
(3) 'n Verkiesing om 'n vakature in die amp van Premier te vul, moet gehou word op 'n tyd en datum deur die President van die Konstitusionele Hof bepaal, maar nie later nie as 30 dae nadat die vakature ontstaan.
Aanvaarding van amp deur Premier
39. Die aangewese Premier aanvaar die amp binne vyf dae na die Premiersverkiesing, deur ooreenkomstig Bylae 1 'n eed of plegtige verklaring van trou aan die Republiek en Wes-Kaap en gehoorsaamheid aan die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet af te lê.
Ampstermyn en ontheffing van Premier
40. (1) Die Premier se ampstermyn begin by ampsaanvaarding en eindig wanneer 'n vakature ontstaan of wanneer die persoon wat volgende tot Premier verkies word, die amp aanvaar.
(2) Niemand mag die amp van Premier vir meer as twee termyne beklee nie, maar wanneer iemand verkies word om 'n vakature in die amp van Premier te vul, word die tydperk tussen daardie verkiesing en die volgende verkiesing van 'n Premier nie as 'n ampstermyn beskou nie.
(3) Die Provinsiale Parlement kan, by wyse van 'n besluit wat met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede geneem word, die Premier van sy amp onthef slegs op grond van -
(a) 'n ernstige skending van die nasionale Grondwet, hierdie Grondwet of die reg;
(b) ernstige wangedrag; of
(c) onvermoë om die funksies van die amp te verrig.
(4) Iemand wat ingevolge subartikel (3)(a) of (b) van die amp van Premier onthef is, mag geen voordele van daardie amp ontvang nie, en mag in geen openbare amp dien nie.
Waarnemende Premier
41. (1) Wanneer die Premier afwesig is of anders nie in staat is om die pligte van die amp van Premier te verrig nie, of gedurende 'n vakature in die amp van Premier, neem 'n ampsdraer in die onderstaande volgorde as Premier waar:
(a) 'n Provinsiale Minister deur die Premier aangewys;
(b) 'n Provinsiale Minister deur die ander Ministers aangewys; of
(c) die Speaker, totdat die Provinsiale Parlement een van sy ander lede aanwys.
(2) 'n Waarnemende Premier het die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die Premier.
(3) Voordat die Waarnemende Premier die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die Premier aanvaar, moet hy of sy ooreenkomstig Bylae 1'n eed of plegtige verklaring van trou aan die Republiek en Wes-Kaap en gehoorsaamheid aan die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet aflê.
Provinsiale Kabinet
42. (1) Die Provinsiale Kabinet bestaan uit die Premier, as hoof van die Provinsiale Kabinet, en minstens vyf en hoogstens 10 lede wat deur die Premier uit die geledere van die Provinsiale Parlement aangestel word.
(2) Die Premier stel die Provinsiale Ministers aan, dra hul bevoegdhede en funksies aan hulle op, en kan hulle ontslaan.
Aanspreeklikheid en verantwoordelikhede
43. (1) Die Provinsiale Ministers is verantwoordelik vir die funksies van die uitvoerende gesag wat die Premier aan hulle opgedra het.
(2) Provinsiale Ministers is gesamentlik en afsonderlik teenoor die Provinsiale Parlement verantwoordbaar vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies.
(3) Provinsiale Ministers moet -
(a) ooreenkomstig die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet handel; en
(b) die Provinsiale Parlement van volledige en gereelde verslae oor aangeleenthede onder hul beheer voorsien.
Voortbestaan van Provinsiale Kabinet na verkiesings
44. Wanneer 'n verkiesing van die Provinsiale Parlement gehou word, bly die Provinsiale Kabinet en sy lede bevoeg om te funksioneer totdat die persoon wat deur die volgende Provinsiale Parlement tot Premier verkies is, dié amp aanvaar.
Eed of plegtige verklaring
45. Voordat Provinsiale Ministers begin om hul funksies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 1'n eed of plegtige verklaring van trou aan die Republiek en Wes-Kaap en gehoorsaamheid aan die nasionale Grondwet en hierdie Grondwet aflê.
Gedrag van Lede van Provinsiale Kabinet
46. (1) Lede van die Provinsiale Kabinet moet optree ooreenkomstig die etiese kode deur nasionale wetgewing voorgeskryf.
(2) Lede van die Provinsiale Kabinet mag nie -
(a) enige ander betaalde werk onderneem nie;
(b) handel op enige wyse wat met hul amp onbestaanbaar is nie, of hulle blootstel aan enige omstandighede wat die risiko inhou van 'n botsing tussen hul amptelike verantwoordelikhede en hul privaat belange nie; of
(c) hul posisie of enige inligting aan hulle toevertrou, gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie.
Oordrag van funksies
47. Die Premier kan by proklamasie in die amptelike koerant van die Provinsie aan 'n lid van die Provinsiale Kabinet oordra -
(a) die administrasie van enige wetgewing wat aan 'n ander lid opgedra is; of
(b) enige bevoegdheid of funksie wat by wetgewing aan 'n ander lid opgedra is.
Tydelike opdra van funksies
48. Die Premier kan aan 'n lid van die Provinsiale Kabinet enige bevoegdheid of funksie van 'n ander lid wat uit die amp afwesig is of nie in staat is om daardie bevoegdheid uit te oefen of daardie funksie te verrig nie, tydelik opdra.
Toesig oor plaaslike regering
49. (1) Wanneer 'n munisipaliteit in Wes-Kaap 'n uitvoerende verpligting ingevolge wetgewing nie nakom of nie kan nakom nie, kan die Provinsiale Kabinet ingryp deur enige gepaste stappe te doen om te verseker dat daardie verpligting nagekom word, insluitende -
(a) die uitreiking van 'n lasgewing aan die Munisipale Raad waarin die mate van die versuim om sy verpligting na te kom, beskryf word en stappe wat nodig is om sy verpligtinge na te kom, vermeld word; en
(b) die aanvaarding van verantwoordelikheid vir die betrokke verpligting in daardie munisipaliteit in die mate wat nodig is om -
(i) noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf of aan gevestigde minimum standaarde vir die lewering van 'n diens voldoen;
(ii) te voorkom dat daardie Munisipale Raad onredelike stappe doen wat nadelig is vir die belange van 'n ander munisipaliteit of van Wes-Kaap as geheel; of
(iii) ekonomiese eenheid te handhaaf.
(2) Indien die Provinsiale Kabinet kragtens subartikel (1)(b) in 'n munisipaliteit ingryp, moet -
(a) die ingryping beëindig word, tensy die lid van die Nasionale Kabinet wat vir plaaslike regeringsake verantwoordelik is, dit binne 14 dae vanaf die ingryping goedkeur;
(b) 'n kennisgewing van die ingryping in die Provinsiale Parlement en in die Nasionale Raad van Provinsies ter tafel gelê word binne 14 dae vanaf hul onderskeie eerste sittings nadat die ingryping 'n aanvang geneem het; en
(c) die ingryping beëindig word, tensy die Nasionale Raad van Provinsies dit binne 30 dae vanaf sy eerste sitting nadat die ingryping begin het, goedkeur.
Uitvoerende besluite
50. (1) 'n Besluit van die Premier moet op skrif wees indien dit -
(a) ingevolge wetgewing geneem word; of
(b) regsgevolge het.
(2) 'n Skriftelike besluit van die Premier moet deur 'n ander lid van die Provinsiale Kabinet mede-onderteken word indien daardie besluit 'n funksie raak wat aan daardie ander lid opgedra is.
(3) Proklamasies, regulasies en ander ondergeskikte wetgewing van Wes-Kaap moet in die amptelike koerant van die Provinsie gepubliseer word en die Wes-Kaapse regering moet redelike stappe doen om dit vir die publiek toeganklik te maak.
(4) Provinsiale wetgewing kan die wyse waarop en die mate waarin instrumente in subartikel (3) gemeld in die Provinsiale Parlement ter tafel gelê moet word en deur die Provinsiale Parlement goedgekeur moet word, spesifiseer.
Mosies van wantroue
51. (1) Indien die Provinsiale Parlement by wyse van 'n besluit ten gunste waarvan 'n meerderheid van al sy lede stem, 'n voorstel van wantroue in die Provinsiale Kabinet, uitgesonderd die Premier, aanneem, moet die Premier die Provinsiale Kabinet hersaamstel.
(2) Indien die Provinsiale Parlement by wyse van 'n besluit ten gunste waarvan 'n meerderheid van al sy lede stem, 'n voorstel van wantroue in die Premier aanneem, moet die Premier en die ander Provinsiale Ministers bedank.
PLAASLIKE REGERING
Plaaslike regering in Wes-Kaap
52. (1) Die plaaslike regeringsfeer in Wes-Kaap bestaan uit munisipaliteite wat ingevolge die nasionale Grondwet ingestel is. Die vermoë of reg van 'n munisipaliteit om sy bevoegdhede uit te oefen of sy funksies te verrig, mag nie gekompromitteer of belemmer word nie.
(2) Die Wes-Kaapse regering moet deur wetgewende en ander maatreëls die vermoë van munisipaliteite om hul eie sake te bestuur, hul bevoegdhede uit te oefen en hul funksies te verrig, steun en versterk.
(3) Die Wes-Kaapse regering moet by wyse van ooreenkoms en behoudens enige voorwaardes die administrasie van 'n aangeleentheid wat in Deel A van Bylae 4 of Deel A van Bylae 5 van die nasionale Grondwet vermeld word en wat noodsaaklikerwys op plaaslike regering betrekking het, aan 'n munisipaliteit opdra indien -
(a) daardie aangeleentheid die doeltreffendste plaaslik geadministreer sou kon word; en
(b) die munisipaliteit die vermoë het om dit te administreer.
(4) Provinsiale wetgewing moet voorsiening daarvoor maak dat provinsiale konsepwetgewing wat die status, instellings, bevoegdhede of funksies van plaaslike regering raak, op so 'n wyse gepubliseer en versprei word voordat dit by die Provinsiale Parlement ingedien word, dat die georganiseerde plaaslike regering, munisipaliteite en ander belanghebbendes die geleentheid gebied word om vertoë met betrekking tot die konsepwetgewing te rig.
(5) Die Wes-Kaapse regering moet 'n munisipale verordening op versoek van die betrokke munisipaliteit in die amptelike koerant van die Provinsie publiseer.
Instelling van munisipaliteite
53. (1) Provinsiale wetgewing moet die verskillende soorte munisipaliteite soos by nasionale wetgewing omskryf, wat in Wes-Kaap ingestel moet word, bepaal.
(2) Die Wes-Kaapse regering moet munisipaliteite in Wes-Kaap instel op 'n wyse wat met nasionale wetgewing bestaanbaar is.
Monitor van plaaslike regering
54. (1) Die Wes-Kaapse regering moet by wyse van wetgewende of ander maatreëls -
(a) voorsiening maak vir die monitor en ondersteuning van plaaslike regering in Wes-Kaap; en
(b) die ontwikkeling van plaaslike regering se vermoë bevorder ten einde munisipaliteite in staat te stel om hul funksies te verrig en hul eie sake te bestuur.
(2) Die Wes-Kaapse regering het ingevolge die nasionale Grondwet die wetgewende en uitvoerende gesag om toe te sien dat munisipaliteite hul funksies ten opsigte van aangeleenthede in Bylaes 4 en 5 van die nasionale Grondwet vermeld, doeltreffend verrig, deur die uitoefening van munisipaliteite se uitvoerende gesag te reguleer.
PROVINSIALE ADMINISTRASIE
Provinsiale staatsamptenare
55. Die Wes-Kaapse regering is verantwoordelik, binne die raamwerk van eenvormige norme en standaarde, wat op die staatsdiens van toepassing is, vir die werwing, aanstelling, bevordering, oorplasing en ontslag van lede van die staatsdiens wat by die administrasie van Wes-Kaap betrokke is.
Basiese waardes en beginsels wat publieke administrasie in Wes-Kaap
beheers
56. Publieke administrasie in Wes-Kaap moet beheers word deur die demokratiese waardes en beginsels wat in die nasionale Grondwet verskans is.
FINANSIES
Bronne van provinsiale befondsing
57. Die bronne van provinsiale befondsing is -
(a) die billike deel van die inkomste wat nasionaal ingevorder word en ingevolge die nasionale Grondwet aan Wes-Kaap toegeken word;
(b) ander toekennings uit nasionale regeringsinkomste;
(c) bykomende inkomste wat die Wes-Kaapse regering invorder; en
(d) ander geld, middele en bates wat die Wes-Kaapse regering ontvang.
Provinsiale Inkomstefonds
58. (1) Alle geld deur die Wes-Kaapse regering ontvang, moet in die Provinsiale Inkomstefonds gestort word, behalwe dié geld wat deur 'n Parlementswet uitgesluit word.
(2) Geld kan uit die Provinsiale Inkomstefonds onttrek word slegs -
(a) ingevolge 'n bewilliging deur 'n provinsiale Wet; of
(b) as 'n regstreekse las teen die Provinsiale Inkomstefonds, wanneer in die nasionale Grondwet of 'n provinsiale Wet daarvoor voorsiening gemaak word.
Belastings
59. (1) Die Provinsiale Parlement kan -
(a) belastings, heffings en regte oplê, uitgesonderd inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, algemene verkoopbelasting, eiendomsbelasting of doeaneregte; en
(b) uniforme bobelasting hef op die belastingbasisse van enige belasting, heffing of reg wat deur nasionale wetgewing opgelê word, uitgesonderd die belastingbasisse van korporatiewe inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, eiendomsbelasting of doeaneregte.
(2) Provinsiale wetgewing kan vir gebruikersgelde voorsiening maak.
(3) Die bevoegdheid van die Provinsiale Parlement om belastings, heffings, regte en bobelastings op te lê, soos deur 'n Parlementswet gereël, mag nie uitgeoefen word op 'n wyse wat nasionale ekonomiese beleid, ekonomiese bedrywighede oor provinsiale grense heen, of die nasionale beweeglikheid van goedere, dienste, kapitaal of arbeid wesenlik en onredelik benadeel nie.
Provinsiale begroting
60. (1) Die provinsiale begroting en begrotingsproses moet deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die doeltreffende finansiële bestuur van die provinsiale ekonomie, skuld en die openbare sektor bevorder.
(2) Die provinsiale begroting moet aan nasionale wetgewing, soos in die nasionale Grondwet beoog, ten opsigte van die formaat daarvan, wanneer dit ter tafel gelê word, en die identifisering van die bronne van inkomste en voorgestelde uitgawe, voldoen.
(3) Die Provinsiale Minister verantwoordelik vir finansiële sake moet ten opsigte van elke boekjaar 'n begroting aan die Provinsiale Parlement voorlê wat -
(a) 'n begroting van inkomste en uitgawe bevat, waarin tussen kapitaaluitgawes en lopende uitgawes onderskei word;
(b) voorstelle bevat vir die finansiering van enige verwagte tekort vir die tydperk waarop die begroting van toepassing is; en
(c) 'n aanduiding bevat van voornemens betreffende lenings en ander vorms van openbare aanspreeklikheid wat in die daaropvolgende jaar die staatskuld sal verhoog.
(4) Wanneer die toekenning van fondse in die provinsiale begroting in volgorde van belangrikheid bepaal word, is dit nodig dat wanbalanse, onbillikhede en die ontwikkelingsbehoeftes van die mense van Wes-Kaap in ag geneem word.
Provinsiale Tesourie
61. (1) Provinsiale wetgewing moet 'n provinsiale tesourie instel en kan maatreëls ooreenkomstig nasionale wetgewing voorskryf om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en uitgawebeheer te verseker deur die gebruik van -
(a) algemeen erkende rekeningkundige praktyk;
(b) uitgawe-klasifikasies; en
(c) tesourienorme en -standaarde.
(2) Die provinsiale tesourie kan, met die instemming van die Provinsiale Minister verantwoordelik vir finansiële sake, die oordrag van fondse na 'n provinsiale staatsorgaan slegs staak weens die ernstige of volgehoue wesenlike oortreding van die maatreëls wat ingevolge subartikel (1) ingestel is.
Verkryging
62. (1) Wanneer die Wes-Kaapse regering vir goedere of dienste kontrakteer, moet dit ooreenkomstig 'n stelsel wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is, gedoen word.
(2) Subartikel (1) belet nie die Wes-Kaapse regering om, binne 'n raamwerk van nasionale wetgewing, 'n verkrygingsbeleid toe te pas wat voorsiening maak vir -
(a) voorkeurkategorieë by die toekenning van kontrakte nie; en
(b) die beskerming of bevordering van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is nie.
Lenings
63. Die Wes-Kaapse regering kan lenings vir kapitaaluitgawes of lopende uitgawes ooreenkomstig voorwaardes wat deur nasionale wetgewing bepaal word, aangaan, maar lenings vir lopende uitgawes -
(a) kan slegs aangegaan word wanneer dit gedurende 'n belastingjaar vir oorbruggingsdoeleindes nodig is; en
(b) moet binne 12 maande terugbetaal word.
Waarborge
64. (1) Die Wes-Kaapse regering kan 'n lening slegs in ooreenstemming met voorwaardes wat in nasionale wetgewing bepaal is, waarborg.
(2) Die Wes-Kaapse regering moet elke jaar 'n verslag oor die waarborge wat hy verstrek het, publiseer.
Bateregister
65. Provinsiale.wetgewing moet voorsiening maak vir -
(a) 'n register van provinsiale bates; en
(b) die aantekening van bates in daardie register.
POLISIE
Polisiëringsfunksies van Wes-Kaapse regering
66. (1) Die Wes-Kaapse regering is geregtig om -
(a) polisie-optrede te monitor;
(b) die doeltreffendheid van sigbare polisiëring te bepaal;
(c) toesig te hou oor die doeltreffendheid en bevoegdheid van die polisiediens, waarby inbegrepe is die ontvangs van verslae oor die polisiediens;
(d) goeie betrekkinge tussen die polisie en die gemeenskap te bevorder; en
(e) met die nasionale Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is, te skakel met betrekking tot misdaad en polisiëring in Wes-Kaap.
(2) Ten einde die funksies in subartikel (1) uiteengesit, te verrig -
(a) kan die Wes-Kaapse regering enige klagtes oor polisie-onbevoegdheid of 'n verbrokkeling in betrekkinge tussen die polisie en enige gemeenskap ondersoek of 'n kommissie van ondersoek in dié verband aanstel; en
(b) moet die Wes-Kaapse regering aanbevelings doen aan die nasionale Kabinetslid wat verantwoordelik vir polisiëring is.
Bevoegdhede van Provinsiale Parlement
67. (1) Die Provinsiale Parlement kan wetgewing aanneem wat nodig is om die funksies in artikel 66(1) gelys, te verrig.
(2) Die Provinsiale Parlement kan vereis dat die provinsiale kommissaris van polisie vir Wes-Kaap voor hom of voor enige van sy komitees moet verskyn om vrae te beantwoord.
(3) Die Provinsiale Parlement moet elke jaar 'n verslag van die provinsiale kommissaris oor polisiëring in Wes-Kaap ontvang.
Uitvoerende gesag se verantwoordelikheid
68. (1) Die Provinsiale Kabinet is verantwoordelik vir polisiëringsfunksies -
(a) waarmee hy kragtens hierdie Grondwet of provinsiale wetgewing beklee word;
(b) wat ingevolge nasionale wetgewing aan hom opgedra is; en
(c) wat volgens die nasionale polisiëringsbeleid aan hom toegeken word.
(2) Die Provinsiale Kabinet -
(a) moet die polisiëringsbehoeftes en -prioriteite van Wes-Kaap bepaal en oordra aan die nasionale Kabinetslid wat verantwoordelik vir polisiëring is;
(b) kan 'n klagte oor enige wangedrag van, of enige misdryf gepleeg deur, 'n lid van die polisiediens in Wes-Kaap by die nasionale onafhanklike polisie klagteliggaam deur nasionale wetgewing ingestel, indien; en
(c) moet deelneem aan die komitee bestaande uit die nasionale Kabinetslid en die Provinsiale Ministers verantwoordelik vir polisiëring, wat kragtens die nasionale Grondwet ingestel is om doeltreffende koördinering van die polisiediens en doeltreffende samewerking tussen die nasionale en provinsiale regeringsfere te verseker.
Provinsiale kommissaris van polisiediens
69. (1) Voordat die Provinsiale Kabinet tot die aanstelling van 'n provinsiale kommissaris instem soos vereis deur die nasionale Grondwet, kan hy vereis dat enige kandidate of benoemdes vir aanstelling as provinsiale kommissaris voor hom of 'n komitee van sy lede moet verskyn.
(2) Indien die provinsiale kommissaris die vertroue van die Provinsiale Kabinet verloor het, kan die Provinsiale Kabinet ooreenkomstig nasionale wetgewing gepaste verrigtinge vir die verwydering of oorplasing van, of tugstappe teen, daardie kommissaris instel; met dien verstande dat, behalwe in uitsonderlike omstandighede, die Provinsiale Kabinet moet vereis dat die provinsiale kommissaris voor hom of voor 'n komitee van sy lede moet verskyn voordat hy daardie verrigtinge instel.
ANDER GRONDWETLIKE INSTELLINGS
Kultuurrade
70. Provinsiale wetgewing moet voorsiening maak vir die instelling en redelike finansiering, binne die beskikbare middele van Wes-Kaap, vir 'n kultuurraad of rade vir 'n gemeenskap of gemeenskappe in Wes-Kaap wat 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel.
Instelling en bepalende beginsels van Omgewingskommissaris
71. (1) Daar is 'n provinsiale Omgewingskommissaris.
(2) Die Kommissaris moet by die uitoefening van sy of haar bevoegdhede en die verrigting van sy of haar funksies die bewaring van die omgewing in Wes-Kaap verseker en moet aandag skenk aan die noodsaaklikheid daarvan om die ewewig tussen die doelstellings van omgewingsbewaring en volhoubare ontwikkeling te bewaar.
(3) Die Kommissaris is onafhanklik en is slegs onderworpe aan die nasionale Grondwet, hierdie Grondwet en die reg, en moet onpartydig wees en moet sonder vrees, begunstiging of vooroordeel sy of haar bevoegdhede uitoefen en sy of haar funksies verrig.
(4) Ander provinsiale staatsorgane moet die Kommissaris bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die amp van die Kommissaris te verseker.
(5) Geen persoon of provinsiale staatsorgaan mag in die werksaamhede van die Kommissaris inmeng nie.
Bevoegdhede en funksies
72. (1) Die Komissaris moet -
(a) stedelike en landelike ontwikkeling wat 'n invloed op die omgewing kan hê, monitor;
(b) klagtes ten opsigte van omgewingsadministrasie ondersoek;
(c) 'n plan van aksie aan enige provinsiale staatsorgaan of munisipaliteit waarvan die aktiwiteite ondersoek is, aanbeveel; en
(d) ooreenkomstig die beginsels van samewerkende regering en inter-regeringsbetrekkinge in Hoofstuk 2 bedoel, handel.
(2) Die Kommissaris beskik oor die bykomende bevoegdhede en funksies waarvoor in provinsiale wetgewing voorsiening gemaak mag word.
Verpligtinge van provinsiale staatsorgane
73. (1) Waar die Kommissaris aanbevelings aan 'n provinsiale staatsorgaan gedoen het, moet daardie orgaan binne 'n redelike tyd aan die Kommissaris verslag doen oor sy optrede na aanleiding van daardie aanbevelings.
(2) Enige provinsiale staatsorgaan wat weier of versuim om die Kommissaris se aanbevelings ten uitvoer te bring, moet op versoek van die Kommissaris, hom of haar van skriftelike redes vir daardie weiering of versuim voorsien.
Verslae deur Kommissaris
74. Die Kommissaris -
(a) moet elke jaar aan die Provinsiale Parlement verslag doen oor sy of haar aktiwiteite en oor omgewingsaangeleenthede in Wes-Kaap;
(b) moet enige aanbevelings wat hy of sy gedoen het, aan die Provinsiale Parlement voorlê; en
(c) kan op enige ander tyd aan die Provinsiale Parlement verslag doen.
Aanstelling
75. (1) Die Kommissaris moet 'n Suid-Afrikaanse burger wees wat -
(a) in die gewone loop van sake in Wes-Kaap woon;
(b) 'n geskikte en gepaste persoon met gespesialiseerde kennis of ondervinding van omgewingsaangeleenthede is; en
(c) voldoen aan die vereistes wat deur provinsiale wetgewing opgelê word.
(2) Die Premier moet as Kommissaris 'n persoon aanstel wat -
(a) deur 'n komitee bestaande uit alle partye wat in die Provinsiale Parlement verteenwoordig is en besluit het om deel te neem, benoem is; en
(b) deur die Provinsiale Parlement by wyse van 'n besluit wat met 'n ondersteunende stem van minstens 60 persent van die lede van die Provinsiale Parlement aangeneem is, goedgekeur is.
(3) Die reëls en orders van die Provinsiale Parlement moet daarvoor voorsiening maak dat die burgerlike samelewing by die benoemingsproses betrek word.
Ampstermyn
76. Die Kommissaris word vir 'n termyn van drie jaar, wat een maal hernu kan word, aangestel.
Ontheffing en skorsing
77. (1) Die Kommissaris mag slegs van sy of haar amp onthef word -
(a) op grond van wangedrag, onvermoë of onbevoegdheid;
(b) op grond van 'n bevinding te dien effekte deur 'n komitee bestaande uit alle partye wat in die Provinsiale Parlement verteenwoordig is en besluit het om deel te neem; en
(c) by aanname deur die Provinsiale Parlement, met 'n ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Provinsiale Parlement, van 'n besluit wat die ontheffing van daardie persoon van sy of haar amp eis.
(2) Die Premier -
(a) kan die Kommissaris uit die amp skors te eniger tyd ná die aanvang van die verrigtinge van 'n komitee van die Provinsiale Parlement om daardie persoon van die amp te onthef; en
(b) moet 'n persoon van die amp onthef by aanname deur die Provinsiale Parlement van die besluit wat daardie persoon se ontheffing eis.
Instelling en bepalende beginsels van Kommissaris vir Kinders
78. (1) Daar is 'n provinsiale Kommissaris vir Kinders.
(2) Die Kommissaris moet die Wes-Kaapse regering bystaan by die beskerming, en die bevordering van die belange, van kinders in Wes-Kaap, in die besonder met betrekking tot -
(a) gesondheidsdienste;
(b) onderwys;
(c) welsynsdienste;
(d) ontspanning en geriewe; en
(e) sport.
Bevoegdhede en pligte
79. (1) Die Kommissaris het die bevoegdheid, soos in provinsiale wetgewing gereël, om enige aangeleenthede betreffende kinders te monitor en te ondersoek, na te vors, opvoeding daarvoor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.
(2) Die Kommissaris -
(a) moet elke jaar aan die Provinsiale Parlement verslag doen oor die maatreëls wat deur die Wes-Kaapse regering getref is om die kinders in Wes-Kaap te beskerm en hul belange te bevorder, en
(b) kan op enige ander tyd aan die Provinsiale Parlement verslag doen.
Aanstelling en ontheffing
80. Die Kommissaris word deur die Premier op aanbeveling van die Provinsiale Parlement aangestel en van die amp onthef.
RIGTINGGEWENDE PROVINSIALE BELEIDSBEGINSELS
81. Die Wes-Kaapse regering moet 'n beleid om die welsyn van die mense van Wes-Kaap daadwerklik te bevorder en te handhaaf, aanneem en uitvoer, insluitende 'n beleid wat daarop gemik is om die volgende te bereik:
(a) veiligheid en sekuriteit;
(b) die bevordering van nie-rassigheid in Wes-Kaap;
(c) die beskerming of bevordering van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is;
(d) die bevordering van respek vir die regte van kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe in Wes-Kaap;
(e) die skepping van werkgeleenthede;
(f) die bevordering van 'n werk-etiek
(g) die bevordering van 'n markgerigte ekonomie
(h) die verwesenliking van die reg van toegang tot -
(i) toereikende behuising;
(ii) gesondheidsorgdienste;
(iii) voldoende voedsel en water; en
(iv) maatskaplike sekerheid, insluitende geskikte maatskaplike bystand vir mense wat nie in staat is om hulself en hul afhanklikes te onderhou nie;
(i) 'n omgewing waarin alle kinders -
(i) geleenthede en geriewe gebied word om op 'n gesonde wyse en in toestande van vryheid en waardigheid te ontwikkel;
(ii) teen uitbuiting, verwaarlosing, misbruik en verlating beskerm word; en
(iii) basiese onderwys onder 'n stelsel van hul ouers se keuse ontvang;
(j) die ontwikkeling van landelike gemeenskappe en die bevordering van die welsyn van landelike werkers;
(k) 'n belastingstelsel wat billik en deursigtig is en mense se vermoë om te betaal, in ag neem.
(l) 'n omgewing waarin alle verswaktes en bejaardes -
(i) toegang het tot gesinsorg of geskikte alternatiewe versorging as hulle uit die gesinsomgewing verwyder is;
(ii) basiese voeding, onderdak, basiese gesondheidsorgdienste en maatskaplike dienste gegee word; en
(iii) teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik, volslae armoede of onvrywillige afsondering beskerm word.
(m) die beskerming van die omgewing in Wes-Kaap, insluitende sy unieke fauna en flora, tot voordeel van die huidige geslag en die nageslag; en
(n) die beskerming en bewaring van die natuurhistoriese, kultuurhistoriese, argeologiese en argitektoniese erfenis van Wes-Kaap, tot voordeel van die huidige geslag en die nageslag;
(o) die ontwikkelingsbevordering en verheffing van die jeug.
Status van rigtinggewende provinsiale beleidsbeginsels
82. Die rigtinggewende provinsiale beleidsbeginsels in hierdie Hoofstuk vervat, is nie regtens afdwingbaar nie, maar rig die Wes-Kaapse regering by die opstel en toepassing van wette.
ALGEMENE BEPALINGS
Oorgangsreëlings
83. Bylae 3 is van toepassing op die oorgang na die nuwe grondwetlike bestel in Wes-Kaap wat deur hierdie Grondwet ingestel word en op aangeleenthede wat met dié oorgang in verband staan.
Kort titel en inwerkingtreding
84. (1) Hierdie Wet heet die Grondwet van die Wes-Kaap, 1997, en tree so gou as moontlik in werking op 'n datum wat deur die Premier by proklamasie in die amptelike koerant van die Provinsie bepaal word, maar wat nie later as 1 Julie 1998 mag wees nie.
(2) Die Premier kan verskillende datums wat voor die datum gemeld in subartikel (1) is, ten opsigte van verskillende bepalings van hierdie Grondwet bepaal, met dien verstande dat artikels 57, 58, 59(1), 60, 61, 63 en 64 op 1 Januarie 1998 in werking tree.
(3) Tensy uit die samehang anders blyk, word 'n verwysing in 'n bepaling van hierdie Grondwet na 'n tydstip waarop hierdie Grondwet in werking getree het, uitgelê as 'n verwysing na die tydstip waarop die bepaling in werking getree het.
AMPSEDE EN PLEGTIGE VERKLARINGS
1. Eed of plegtige verklaring van lede van Provinsiale Parlement
(1) Lede van die Provinsiale Parlement moet voor die President van die Konstitusionele Hof of 'n Regter deur die President van die Konstitusionele Hof aangewys, soos volg 'n eed aflê of plegtig verklaar:
Ek, A. B. sweer/verklaar plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika en die provinsie Wes-Kaap en dat ek die nasionale Grondwet, die provinsiale Grondwet en alle ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en handhaaf, en belowe plegtig om my funksie as 'n lid van die Provinsiale Parlement na my beste vermoë te verrig.
(In die geval van 'n eed: So help my God)
(2) Persone wat 'n vakature in die Provinsiale Parlement vul, kan ingevolge sub-item (1) voor die voorsittende beampte van die Provinsiale Parlement 'n eed /plegtige verklaring aflê.
2. Eed of plegtige verklaring van Premier, Waarnemende Premier en Provinsiale Ministers
Die Premier of Waarnemende Premier van die Provinsie en elke Provinsiale Minister moet voor die President van die Konstitusionele Hof of 'n Regter deur die President van die Konstitusionele Hof aangewys, soos volg 'n eed aflê of plegtig verklaar:
Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika en die provinsie Wes-Kaap en dat ek die nasionale Grondwet, die provinsiale Grondwet en alle ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en handhaaf, en ek onderneem om my amp as Premier/Waarnemende Premier/Provinsiale Minister van Wes-Kaap met eer en waardigheid te beklee, om 'n opregte en getroue raadslid te wees, geen sake wat aan my vir geheimhouding toevertrou word, regstreeks of onregstreeks te openbaar nie, en die funksies van my amp met nougesetheid en na my beste vermoë te verrig.
(In die geval van 'n eed: So help my God)
VERKIESINGSPROSEDURES
Aansoek
1. Die prosedures in hierdie Bylae uiteengesit, is van toepassing wanneer ook al die Provinsiale Parlement byeenkom om die Premier van Wes-Kaap of die Speaker [of Adjunk-Speaker] van die Provinsiale Parlement te verkies.
Nominasie
2. Die persoon wat voorsit op 'n vergadering waarop hierdie Bylae van toepassing is, moet op die vergadering vir die nominasie van kandidate vra.
Formele vereistes
3. (1) 'n Nominasie moet voorgelê word op die vorm wat voorgeskryf word deur die reëls in item 9 vermeld.
(2) Die vorm waarop 'n nominasie voorgelê word, moet deur twee lede van die Provinsiale Parlement onderteken word, indien die Premier van die Provinsie of die Speaker [of Adjunk-Speaker] van die Provinsiale Parlement verkies moet word.
(3) 'n Persoon wat genomineer word, moet aanname van die nominasie te kenne gee deur die nominasievorm of enige ander vorm van skriftelike bevestiging te teken.
Aankondiging van name van kandidate
4. Op 'n vergadering waarop hierdie Bylae van toepassing is, moet die voorsittende persoon die name aankondig van die persone wat as kandidate genomineer is, maar die voorsittende persoon mag geen debat toelaat nie.
Enkele kandidaat
5. Indien slegs een kandidaat genomineer word, moet die voorsittende persoon verklaar dat daardie kandidaat verkies is.
Verkiesingsprosedure
6. Indien meer as een kandidaat genomineer word -
(a) moet daar by wyse van geheime stemming op die vergadering gestem word;
(b) mag elke lid wat op die vergadering teenwoordig is, een stem uitbring; en
(c) moet die voorsittende persoon die kandidaat wat 'n meerderheid van die stemme kry, verkose verklaar.
Uitskakelingsprosedure
7. (1) Indien geen kandidaat 'n meerderheid van die stemme gekry het nie, moet die kandidaat wat die laagste getal stemme kry, uitgeskakel word en moet 'n verdere stemming oor die oorblywende kandidate ooreenkomstig item 6 plaasvind. Hierdie prosedure moet herhaal word totdat 'n kandidaat 'n meerderheid van die stemme kry.
(2) Indien by die toepassing van sub-item 1, twee of meer kandidate elk die laagste getal stemme kry, moet 'n aparte stemming oor daardie kandidate gehou word, en so dikwels nodig herhaal word, om te bepaal watter kandidate uitgeskakel moet word.
Verdere vergaderings
8. (1) Indien slegs twee kandidate genomineer word, of indien slegs twee kandidate oorbly nadat 'n uitskakelingsprosedure toegepas is, en daardie twee kandidate dieselfde getal stemme kry, moet 'n verdere vergadering binne sewe dae gehou word op 'n tyd wat deur die voorsittende persoon bepaal word.
(2) Indien 'n verdere vergadering ingevolge sub-item (1) gehou word, moet die prosedure in hierdie Bylae voorgeskryf op daardie vergadering toegepas word asof dit die eerste vergadering vir die betrokke verkiesing is.
Reëls
9. Die reëls wat op bogenoemde verkiesingsprosedures van toepassing is, is die reëls wat die President van die Konstitusionele Hof ingevolge die nasionale Grondwet maak.
OORGANGSREëLINGS
Uitleg van bestaande wetgewing
1. Tensy uit die samehang anders blyk of klaarblyklik onvanpas, word 'n verwysing in enige wetgewing wat bestaan het toe hierdie Grondwet in werking getree het, na die Provinsiale Wetgewer, Premier, Uitvoerende Raad of lid van die Uitvoerende Raad uitgelê as 'n verwysing na die Provinsiale Parlement, Premier, Provinsiale Kabinet of Provinsiale Minister kragtens hierdie Grondwet.
Tale
2. (1) artikel 5(1) van hierdie Grondwet is onderworpe aan die volgende:Die regering van die Wes-Kaap moet binne sy beskikbare middele, redelike wetgewende en ander maatreëls tref om die gelyke status van Afrikaans, Engels en isiXhosa in toenemende mate te verwensenlik.
(2) Provinsiale wetgewing in sub-item (1) beoog, moet binne twaalf maande vanaf die datum waarop hierdie Grondwet in werking tree, verorden word.
Provinsiale Parlement
3. (1) Enigiemand wat 'n lid of ampsdraer van die Provinsiale Wetgewer was toe hierdie Grondwet in werking getree het, word 'n lid of ampsdraer van die Provinsiale Parlement en beklee die amp van lid of ampsdraer ingevolge hierdie Grondwet.
(2) Die Provinsiale Parlement soos ingevolge sub-item (1) saamgestel, word beskou as verkies te wees kragtens hierdie Grondwet vir 'n termyn wat op 30 April 1999 verstryk.
(3) Vir die duur van die Provinsiale Parlement se termyn wat op 30 April 1999 verstryk behoudens artikel 17(4) van hierdie Grondwet, bestaan die Provinsiale Parlement uit 42 lede plus die voormalige senatore wat ingevolge die Nasionale Grondwet, lede van die Provinsiale Parlement geword het.
(4) Die reëls en orders van die Provinsiale Wetgewer wat van krag was toe hierdie Grondwet in werking getree het, bly van krag behoudens enige wysiging of herroeping.
Verkiesing van Provinsiale Parlement
4. (1) Bylae 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet 200 van 1993), soos gewysig by Aanhangsel A van Bylae 6 van die nasionale Grondwet, is van toepassing -
(a) op die eerste verkiesing van die Provinsiale Parlement kragtens hierdie Grondwet;
(b) op die verlies van lidmaatskap van die Provinsiale Parlement in ander omstandighede as dié waarvoor in artikel 15(3) van hierdie Grondwet voorsiening gemaak word, tot die tweede verkiesing van die Provinsiale Parlement kragtens hierdie Grondwet;
(c) op die vul van vakatures in die Provinsiale Parlement, en die aanvulling, hersiening en aanwending van partylyste vir die vul van vakatures, tot die tweede verkiesing van die Provinsiale Parlement kragtens hierdie Grondwet.
(2) Geen verkiesing van die Provinsiale Parlement mag voor 30 April 1999 gehou word nie, tensy die Provinsiale Parlement ingevolge artikel 18(2) ontbind word as gevolg van 'n voorstel van wantroue in die Premier ingevolge artikel 51(2).
Ede en plegtige verklarings
5. 'n Persoon wat ingevolge hierdie Bylae in 'n amp aanbly en wat kragtens die vorige Grondwet of kragtens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet 200 van 1993) 'n ampseed of plegtige verklaring afgelê het, is nie verplig om die ampseed of plegtige verklaring kragtens hierdie Grondwet te herhaal nie.
Ontbinding van Provinsiale Parlement voor verstryking van termyn
6. Artikel 18(1) van hierdie Grondwet word tot 30 April 1999 opgeskort.
Afgevaardigdes na Nasionale Raad van Provinsies
7. Die Provinsiale Parlement kan, totdat 'n Parlementswet ingevolge artikel 65(2) van die nasionale Grondwet verorden word, in sy reëls en orders voorsiening maak vir die toewysing van gesag aan sy afvaardiging na die Nasionale Raad van Provinsies om namens hom in die Raad te beraadslaag, op te tree en stemme uit te bring.
Provinsiale Kabinet
8. (1) Enigiemand wat die Premier is wanneer hierdie Grondwet in werking tree, bly aan in en beklee die amp van Premier ingevolge hierdie Grondwet.
(2) Behoudens artikel 44 van hierdie Grondwet, tot en met die tweede verkiesing van die Provinsiale Parlement ingevolge hierdie Grondwet, word artikels 42 en 43 geag te lui soos in Aanhangsel A van hierdie Bylae uiteengesit.
Verordening van wetgewing deur hierdie Grondwet vereis
9. (1) Waar hierdie Grondwet die verordening van wetgewing of reëls en orders van die Provinsiale Parlement vereis, moet daardie wetgewing en daardie reëls en orders deur die betrokke owerheid verorden of aangeneem word, na gelang van die geval, binne 'n redelike tyd na die datum waarop hierdie Grondwet in werking getree het.
(2) Provinsiale wetgewing in artikels 65 en 70 van hierdie Grondwet beoog, moet binne 12 maande vanaf die datum waarop hierdie Grondwet in werking getree het, verorden word.
AANHANGSEL A
1. Artikel 42 van hierdie Grondwet word geag soos volg te lui:
mmProvinsiale Kabinet
42. (1) Die Provinsiale Kabinet bestaan uit die Premier, as hoof van die Provinsiale Kabinet, en:
(a) minstens vyf en hoogstens tien Provinsiale Ministers wat lede is van die Provinsiale Parlement; en
(b) 'n maksimum van twee Provinsiale Ministers wat as lede van die Provinsiale Parlement verkiesbaar is maar nie lede is nie, mits die Premier die aanstelling van daardie Provinsiale Ministers wenslik ag.
(2) Die Premier stel die Provinsiale Ministers aan, dra hul bevoegdhede en funksies aan hulle op, en kan hulle ontslaan.
2. Artikel 43 van hierdie Grondwet word geag die volgende bykomende subartikel te bevat:
(4) 'n Provinsiale Minister bedoel in artikel 42(1)(b) kan sitting neem en praat in die Provinsiale Parlement, maar mag nie stem nie, en is geregtig op die voorreg in artikel 26 van hierdie Grondwet uiteengesit.
VERKLARENDE MEMORANDUM
Die oorspronklike Wetsontwerp op die Grondwet is opgestel ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, waarin artikel 142 bepaal dat 'n provinsiale wetgewer 'n grondwet vir 'n provinsie met 'n meerderheid van ten minste twee derdes van al sy lede mag goedkeur.
Op 3 Julie 1996 het die Speaker van die Wetgewer van die Provinsie Wes-Kaap die Staande Komitee op Staatkundige Sake, Plaaslike Bestuur en Behuising gevra om 'n grondwet vir die Provinsie op te stel.
Alle politieke partye wat in die Wetgewer verteenwoordig word, het aan die beraadslaginge van die Staande Komitee deelgeneem. In die opstel van hierdie teks was die oogmerk deurgaans om te verseker dat die Grondwet van die Provinsie legitiem is en dat dit die gevolg van aktiewe deelname deur al die mense van die Wes-Kaap is.
Die mense van die Wes-Kaap het mondelinge en skriftelike voorleggings aan die Staande Komitee gelewer. Die Komitee het al die hoofsentra in die Wes-Kaap besoek, en in Desember 1996 is 'n konsepwetsontwerp afgehandel, gepubliseer en wyd versprei. 'n Wye verskeidenheid mondelinge en skriftelike voorleggings is ontvang wat almal deur die Komitee oorweeg is.
Die Konstitusionele Hof het die aansoek om sertifisering van die Grondwet van die Provinsie Wes-Kaap op 14-15 Mei 1997 aangehoor. Die Hof het op 2 September 1997 uitspraak gelewer en het sertifisering geweier.
'n Gewysigde weergawe van die teks moet deur die Wetgewer van die Provinsie Wes-Kaap aanvaar en vir sertifisering aan die Konstitusionele Hof voorgelê word.
Gedruk deur Creda Press